Pushplay

13 07 2009

Die NetJane-Liefie huis kyk nie vreeslik baie tv nie, maar ons hou van fliek en dvd kyk. Ons het na ‘n lang ge-oem en ge-ah toe Dstv aangeskaf, aangesien die huurder terwyl ons in Swede was al die bedrading laat doen het en die nodige skottel gekry het en ons letterlik net die R400 (of watookal) vir ‘n dekodeerder moes gaan betaal. Wat ons toe gedoen het. Toe begin ons al hoe meer televisie kyk. Goed wat ons nie eens wil kyk nie, maar net kyk omdat ons klaar op die bank lê, te lui is om op te staan en omdat dit wys en net half interessant is.

Ons het later meer disipline aan die dag gelê, maar agtergekom Dstv wys oor en oor dieselfde goed en regtig begin sukkel om iets van waarde te kry om te kyk. Ons kyk nie sport nie en het nie kinders wat Ceebeebies moet kyk nie en toe Dstv nog boonop die maandelikse fooi opskuif, toe strip my moer.

Ek lees toe iewers op ‘n blog van Pushplay. Dit lyk vir my na ‘n goeie idee, dis baie goedkoper as Dstv en met die besparing kan ek nog elke maand ‘n seisoen van een of ander televisiereeks koop. Een-twee-drie (eintlik was dit meer soos “ek gaan iemand fokken doodmaak, hierdie voiceprompt storie van julle gaan my laat crack!”) en my Dstv is gekanselleer. Ek is ‘n Pushplay fan.

Ek wil so graag hê dit moet uitwerk, want dis ‘n goeie idee en Suid-Afrika het so iets nodig, maar die outjies se aflewering is stadig. Tot 4, 5, 6 dae. Dan het ek al lankal gatvol geraak en iets by die videowinkel gaan uitneem, wat juis teen die Pushplay idee inwerk. Verder kan hulle ook nie telefonies gekontak word nie en as ek die dag kwaad raak en wil skree, moet iemand darem kan luister. E-pos boodskappe doen dit net nie vir my nie en as ek weer lees wat ek getik het verloor ek stoom en haal die sarkastiese en lelike woorde uit.

Ek moet darem sê dat Pushplay nog elke keer wat ek gekla het iets positiefs gedoen het, soos ‘n kredietbewys of ‘n ekstra dvd of so iets, maar ek wil net kan weet dat as ek dvd’s op byvoorbeeld ‘n Maandag teruggee ek weer teen die Vrydag nuwes sal hê. Hulle is seker nuut en hulle probeer seker hard, maar my genade is min. Die enigste ding wat tans in hulle guns tel is dat ek nogsteeds voel Dstv is ‘n groot rip-off en dus nie sommer gou weer sal aansluit nie.

Enige ander Pushplay gebruikers? Julle gevoelens en ervarings?

(Natuurlik, nou dat ek niks het om te kyk nie blog ek weer…)





So maklik soos een, twee…

8 07 2009

My ouers is besig om te skei.

In September sou hulle 38 jaar getroud gewees het.

Ek weet ek is “groot” en moet waarskynlik die saak kan uitredeneer en vrede daarmee maak, maar ek prop nou maar net die gedagte iewers êrens in ‘n besemkas van my brein in en hoop vir die beste. Ek wil nie eintlik daarmee “deal” nie, want ek weet nie hoe nie. Hulle keuse gaan nie my lewe direk affekteer nie, ek bly nie naby hulle nie, sien hulle net saam as ek gaan kuier en die res van die tyd kuier my ma by my, of nou en dan my pa (op besigheid), maar nooit die twee saam nie. Ek was lanklaas Kersfees by die huis, omdat ek en Liefie dan verkies om te reis. Ek weet net nie mooi hoe om die konsep van “hulle”  net “hy” en “sy” te maak in my brein nie.  Lyk my die twee is heel vriendelik met mekaar en die saak sal waarskynlik vooraf geskik word, maar dis vir my so weird!

Hoe gaan jy na soveel jare saammet iemand aan jou sy nou alleen aan met jou lewe?

Ek het reeds ‘n ruk terug vliegtuigkaartjies vir einde Julie bespreek om na my ouers toe te gaan vir my pa se verjaarsdag, voor ek gehoor het van die skeiery. Nou is ek al lus om nie te gaan nie. Nie in die byenes in te vlieg nie, nie in ‘n posisie geplaas te word waar ek betrokke moet raak nie.

Die ergste vir my is dat ek met my pa en ma kon praat as prokureur en alles mooi kon uitspel, maar ek nie as dogter kan optree nie, want ek wil nie…





Nie my tipe mens nie…

7 07 2009

Daar’s allerhande statistiek oor hoeveel van jou lewe jy omslaap, op telefone aanhou en in drive thru rye wag, maar die aktiwiteit wat die heel meeste van jou tyd vat is jou werk. Die mense waarmee jy terloops opgeskeep sit, is die mense wat jou die meeste ure in ‘n dag sien. Dis daai mense wat jy eintlik moet ken.

Hoe keer mens dat jou werk nie jou lewe word nie? Hoe gaan ek dit regkry om smiddae by die hek uit te ry en nie nog die heelpad huistoe ook aan werk te dink nie? Ek is mal oor my werk, alhoewel ek deesdae effens uitgebuit voel, maar niks daaraan doen nie, omdat ek weet dat ek my eie uitbuitingslat gepluk het, omdat ek die uitbuiting toelaat deur niks daaraan te doen nie. (Netjiese sirkeltjie van lamsakkigheid aan my kant dan).

In terme van die Myers Briggs tiperings model (doen ‘n basiese aanlyn toets, ek weet julle wil!) is ek ‘n ISTJ. Ek is waarskynlik die mees pligsgetroue mens op hierdie aarde. Ek sal goed doen wat myself indoen, nie omdat dit vir my lekker is nie, maar omdat ek voel dit is my plig. Ek is betroubaar, ek werk hard en ek is deeglik. Omdat ek so ‘n verskriklike pligsbesef het, is ek permanent besig om perde op te saal wat niks met my te doen het nie. Ek probeer standaarde handhaaf, probleme oplos, stil-stil allerhande ysters uit die vuur te haal.

Ek is so moeg daarvoor, maar die ander mense in die kantoor is nie my tipe mens nie. (haha!). En as daar een ding is wat ek weet – ISTJ’s is altyd reg… ;)





Aanstap rooies

30 06 2009

Die afgelope 9 dae het my getoets. My lewe was goor. Die sameloop van dinge het my regtig oorweldig. As enige van die goed op hulle eie sou kom aanklop sou ek dit kon hanteer het, maar daar was iets in die lug. Ek het dinge nie goed hanteer nie.

Op my manier het ek maar aangeploeter, niks erken nie, vir almal gesê ek’s okay en my “happy face” opgesit. Totdat ‘n kollega gisteroggend by die kantoor instap, een kyk in my rigting gee en sê: “I don’t bloody care what you say, you’re not okay!”. Dis toe wat ek besef dat ek so besig is om tough cookie te speel en alles te wil “handle” en “okay” en “cool” te wees, dat ek al die mense wat my wil en kan help, heeltemal wegstoot.

Ons is groepsdiere. Ons is eintlik daar om mekaar te help. Dis okay om te sê “ek kan nie” en “dit gaan nie goed met my nie”. Dit maak nie van mens ‘n swakkeling nie. Soms is daar te veel hooi op mens se vurk, soms laat jou juggling jou in die steek. So what. Ons is mense. Ons maak foute. Ons is soms nie tot alles in staat nie. Dis okay om menslik te wees.

Ek het verskriklike ondersteuning van vriende, familie en werkskollegas gehad. Dankie vir al die bloggers was ‘n gawe woordjie gehad het. Ek’s nou okay. Regtig…

Soms gebeur dinge net so dat daar antwoorde/paaie/oplossings is wat die lewe jou bied en soms is dit nie heeltemal wat jy wou gehad het nie, maar soms is dit maar net so dat jy niks daaraan kan doen nie.

Iets wat ek weer besef het: mens het eintlik net beheer oor twee dinge, jou keuses oor goed en jou reaksies tot gebeure in die lewe.Ek het ook besef dat dit help om kalm te bly al lyk dit of alles ‘n fokop is.

Verder – staan op, kyk op, stap aan. Daar’s altyd mense wat omgee.

Dankie.





Hou moed

25 06 2009

Dit gaan nie goed met my op die oomblik nie. As gevolg daarvan gaan dit nie goed met my blog op die oomblik nie.

Ek blog waarskynlik weer binnekort. Hou moed (want myne raak min!).





Lag ‘n slag

14 06 2009

Cyanide and Happiness, a daily webcomic

Ek lag baie maklik. Ek lag nie altyd vir geskikte goed nie, maar ek lag nogsteeds. Party mense sal sê van die goed waaroor ek lag is “siek” of “weird” of net gewoon nie snaaks nie. Ek lag nogsteeds elke keer.

Ek altyd lag vir grappies met diere in. Vertel ‘n grap + sit ‘n dier in + gee vir die dier menslike eienskappe, soos praat = ek lag. My gunsteling tekenprent kunstenaar is Gary Larson met sy “The Far Side”. Sy koeie praat almal. Van al die diere is ‘n pratende koei vir my omtrent die snaakste.

Ek is mal oor Cyanide & Happiness, seker omdat dit so “af” is.

Ek kan nie ‘n grap vertel nie, want die grappe wat vir my snaaks genoeg is om oor te vertel laat my elke keer weer so lag dat ek nie by die punchline kan uitkom nie. Ek lag op ongepaste tye. Ek lag onbeheerslik saammet my sussie, oor wie weet wat, ‘n woord tussen die twee van ons is genoeg om ons ure besig te hou. Ek lag vir slim woorde en oulike idees. Ek lag vir double entendres. Ek dink gereeld die lewe is snaaks.

Is dit net ek of lag mense nie meer genoeg nie? Nie maklik genoeg nie, nie vinnig genoeg nie, nie hard genoeg nie. Nie genoeg genoeg nie.





Soek en jy sal vind

10 06 2009

Die lys soekterme op my blog is omtrent dag na dag na dag dieselfde.

Dit verbaas my dat daar op die ganse web nie beter resultate vir die terme is as my blog nie. Toe toets ek maar die terme. My blog is die antwoord. Ek glo nog al die jare ek het al die antwoorde en as enige iemand iets wil weet moet hulle my vra, maar my ma het gesê ek moet ophou met my nonsens en my suster het mettertyd opgehou om my opgemaakte antwoorde te glo.

Siende dat ek iemand is wat daarvan hou om ander (reg te) help, wil ek net vandag ‘n paar dinge duidelik maak:

1. Hier is nie kaal vroue of vrouens op hierdie blog nie. Die Ysland post praat oor kaalvrouens, maar wys nooit kaalvrouens nie. Move on, of soek in Engels.

2. Hier is nie tieties, mooi tieties, kaal tieties of Afrikaanse tieties (?!) op hierdie blog nie. Weereens, die Ysland post praat oor tieties, maar wys nooit tieties nie. Move on, of soek in Engels. GLO MY, die resultate gaan beter wees.

3. Ek eet graag soetkoekies, maar het nog nooit ‘n resep vir soetkoekies geplaas nie. Hier’s een.

4. Ek het ingeskryf vir die Sarie Bruid van die Jaar kompetisie, maar nie gewen nie. Hulle het duidelik nie van my “look” gehou nie. Koop die Sarie Bruid tydskrif, vul die vormpie in, scan/faks/pos dit saammet die foto’s en skryf dit op jou maag.

5. Vir al die Sweede wat Ales Stenar soek: hoekom soek julle op ‘n Afrikaanse blog? Wikipedia. Dis die moeite werd om die endjie te stap, daar’s ‘n mooi see uitsig en die klippe is cool om te sien of Ales Stenar är et trevligt ställe at besöka.

6. Voorhuweliksekontrak/huwelikskontrak/buite gemeenskap van goed: ek belowe plegtig ek sal binnekort ‘n ordentlike post hieroor doen, want dis my werk.

7. As jy Ysland toe wil gaan, email my. Ek het baie navorsing gedoen voor ek gegaan het, so ek sal probeer help. Ek wonder dan ook, presies hoeveel Suid-Afrikaners beplan om Ysland toe te gaan? Ek vermoed ander tale noem ook die plek Ysland. Sover ek dit het is Ysland nie op meeste Suid-Afrikaners se “must see before we die” lysie nie…

8. Vir die ou wat “ek voel so aan my bas hier kom ‘n ding” gesoek het – ek kan nie help nie, maar ek voel dit ook.

9. As jy voel “tegnologie maak van my ‘n kluisenaar”, gaan uit, praat met regte mense daaroor, of leer hoe jou alarmstelsel of hek remote werk.

10. Matriekafskeid was vir my lank terug gewees. Moenie te veel worry oor die rok nie, die afterparty is dit waaroor almal later (nie) praat (nie).

Ek besef dat deur die terme weer te gebruik, ek die kanse dat die soekenjins weer my blog as antwoord gaan uitgooi, vergroot, maar nou ja, soms moet mens ander se belange voor jou eie sit. ;)





Verslawing

9 06 2009

Ek het ‘n ruk terug geblog oor hoe baie ek van lees hou en hoe sommige boeke my net totaal en al insluk. Hierdie naweek het ‘n boek bitter amper huismoles in die Netjane/Liefie huishouding veroorsaak. Ek het myself heeltemal vergryp aan “Fees van die ongenooides” van P.G. du Plessis. Ons was in Swede toe die televisiereeks uitgesaai is en het dit dus nooit gekyk nie. As jy nie tyd het om te lees nie en kos moet maak, wasgoed moet was en in die algemeen semi-sosiaal moet wees, moenie die boek begin nie. Jy gaan dit wil lees en klaarlees – glo my.

Ek was so verslaaf aan die boek dat ek Saterdagaand mooi in die teater gesit het terwyl ek Aspects of Love gekyk het en half dikbek was omdat ek my boek moes los. Ek het die kaartjies vir die vertoning gekoop! Een reël uit die stuk wat my vreeslik bybly is die volgende: “Life goes on, love goes free…” Ek wonder of ons almal minder issues in die lewe sou gehad het as ons dit net aldag besef het.

Terloops: Ek het aan die regterkant van my blog ‘n “widget” bygevoeg wat aandui watter boek ek tans lees. As enige iemand iets te sê het oor wat ek lees of enige aanbevelings het, los asseblief kommentaar, ek is altyd op soek na iets om te lees en lees nogal ‘n wye verskeidenheid van boeke.

Lekker week – dis nou veral lekker om in die bed te wees… ;)





Die tyd vlieg

4 06 2009

Ek is nou net minder as ‘n jaar terug in Suid-Afrika. Ek kan glad nie glo hoe vinnig die tyd verby gegaan het nie en my tydjie in Swede voel regtig vir my soos iets wat baie lank terug gebeur het. Deesdae dink ek al hoe meer aan Swede en verlang elke dag nog ‘n bietjie meer. Ek skat teen die tyd romantiseer ek seker al my hele ervaring, maar ek het tot gisteraand oor Swede gedroom. In my droom het vriende van Suid-Afrika kom kuier en ek en Liefie het ‘n nuwe woonstel gehad. My brein het vir my ‘n heel nuwe lewe in Swede geskep.

Ek weet nie wat ek so vreeslik mis nie, dit mag dalk net wees dat ek daarna hunker om net weer vir ‘n rukkie baas van my eie tyd te wees. Miskien is dit die gebrek aan verantwoordelikheid wat my aantrek, miskien is dit net ons koue winter wat my daaraan laat dink dat dit nou amper midsomer in Swede is en dat die son nie juis sak nie.

Ek wil net vir ‘n rukkie wegvlieg na die middernagson.





Goeie môre, baie dankie.

3 06 2009

Ek het nie tyd vir ‘n lang post nie, maar hierdie is eintlik ‘n onderwerp wat ek nog deeglik wil bespreek. Vir nou wonder ek maar net die volgende: wat het van goeie maniere en “common decency” geword?

Sê mense nie meer totsiens voor hulle ‘n telefoon neerplak nie? Jok mense nou deesdae daagliks om hulle eie basse te red? Werk niemand meer hard en deeglik nie? Is dit okay om in die verkeer in te druk en vinger te wys en te kere te gaan? Hoekom doen ek wat ek sê ek gaan doen? Hoekom is dit reg om laat te wees of selfs nie op te daag nie? Van wanneer af vat almal kortpaaie in die lewe?

Dit piss my af. Ek’s vanoggend hoog bedonnerd, want die lewe “push” my…